Thursday, November 24, 2005

ek betreur jou (KANTELSON, 1966)

Ek betreur jou wasige liggaam
blou soos jou oë wasig en wyd die see
My hand van stof
kan jou nie behoed nie
kan skaars die pad verander
waarop jou neerslagtige voetstappe
moet rus in wier
My hand van stof
kan die rotse nie trotseer nie

Maar die meeue kan

Hond, Kantelson (1966), vir Simone.

Ek lê onder jou hand - 'n brak
in die knorrende stilte
in die tjankende maan
getralie tussen die sterre, sy
in haar ontsettende
wit kom en gaan.

(Ek wou ook nog gaan hase jag
oor my eie karoo
oor my brandende vlakte
van oker tot oker, o
wit vlaktes van jou hande!)

Vanaand sal ek met my tande oop
ruk aan die sluwe ritme van die maan
luister na my soetheid en verte
my langluidende blaf
uit my hok; wit maan, wit baas,
in die nag.

Ons (vir Andre) ROOK EN OKER, 1965

só sal jy afsterf van my
soos jou vergeefse saad
nakend soos water
brandblink soos
laat april
soos hande nakend

mooi soos sterflikheid
soos 'n laaste woord
treurig soos bloed
geen kleine dood

môre brandblink ons onverwek-
te saad môre
breek die bloeisels
nuwe meisies soos maagde
môre
sterf ek en jy

My pop val stukkend (ROOK EN OKER, 1965)

Die skaduwee waarsku die straat
geslinger uit 'n hoë balkon
deur die skaars jakarandas van die lug
die skaduwee waarsku die son

deur die lied van die penniefluitjies
geval op die dreunende straat
my pop met 'n naam soos 'n liggaam
wat net soos 'n mens kon praat

My pop soos 'n mossie geskiet
korrel-kaal van die vensterbank
of was dit die wind uit die verte
of was dit my eie hand

My pop het geval toe die son
sy brons klok lui uit die lug
toe die wolke die mure wit kalk
val die skaduwee daarin terug

Die skaduwee waarsku die son
porselein met die ver lug bo -
as ek sou val uit 'n hoë balkon
as ek sou breek lyk ek ook só

Toemaar die donker man, ROOK EN OKER (1963)

Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap 'n ou man wat'
n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en 'n rug gebuk aan sy jare.

Wat maak hy, mammie?

Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.

Wat is sy naam, mammie?

Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toe maar, die donker man

Ek herhaal jou, ROOK EN OKER (1963) vir Uys Krige, Jack Cope

Ek herhaal jou
sonder begin of einde
herhaal ek jou liggaam
Die dag het 'n smal skadu
en nag geel kruise
die land sonder aansien
en die mense 'n ry kerse
terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hande namaak

Lied van die lappop (Uit versamelde werke, perskor 1975, ONTVLUGTING, 1956)

Ek is die lappop wat nie praat
en maak net op jou liefde staat

Saans lê ek blind en stil en doof
en lig nie meer my semel-hoof

My hande roer nie en my lyf
word met jou weggaan koud en styf

Sonder jou hulp kan ek nie loop:
jy het my sommerso gekoop

en sal my nog een Guy Fawkes-nag
goedmoeds verbrand en daaroor lag.

Ek is die lappop sonder gees
My pyn jou luid gevierde fees.

Op die pad na die dood

Op die pad na die dood loop jou naam, Christus.
Die hart van jou oe klop op die lippe van kinders.
Die geslagte van jou woorde le in sugte van minnaars
tot in die laaste voue van die vreugde Amen.

Openbaring, betekenis, murg en gebeente, taal;
Segger van die droom, tolk van die Allerhoogste,
in jou oe het ek die ewigheid gesien sonder verte
het ek gedaal tot op die uiterste klankbodems van God.

Meester, by die voorhangsel van die daeraad
met my eie dood op my tong gee ek jou terug
aan die lewe, met my bebloede naam, bespot,
gekruisig, werkwoord van die liefde, Judas Iskariot.

Bitterbessie dagbreek

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
'n spieel het gebreek
tussen my en hom

Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af

Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed

Pappegaai- bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroe
weer die koggel kry

Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son

Swanger vrou

Ek le onder die kors van die nag singend,
opgekrul in die riool, singend,
en my nageslag le in die water.

Ek speel ek is kind:
appelliefies, appelliefies en heide,
koekmakrankas, anys,
en die paddavis gly
in die slym in die stroom,
in my liggaam
my skuimwit gestalte;
maar riool o riool,
my nageslag le in die water.

Nog singend vliesrooi ons bloedlied,
ek en my gister,
my gister hang onder my hart,
my kalkoentjie, my wiegende wereld,
en my hart wat sing soos 'n besie,
my besie-hart sing soos 'n besie;
maar riool, o riool,
my nageslag le in die water.

Ek speel ek is bly:
kyk waar spat die vuurvlieg!
die maanskyf, 'n nat snoet wat beef-
maar met die more, die hinkende vroedvrou
koulik en grys op die skuiwende heuwels,
stoot ek jou uit deur die kors van die daglig,
o treurende uil, groot uil van die daglig,
los van my skoot maar besmeer
met my trane besmeer
en besmet met verdriet.

Riool, o riool,
ek le bewend singend,
hoe anders as bewend
met my nageslag onder jou water...?

By die Goodwood-tentoonstelling

Hul het my uitgekies en ingetroon
tot hierdie tronk waarin ek woon

waarom hul daagliks, vry nog, gaan
en nie my stom kreet kan verstaan.

'n Eerste prys hang om my nek
maar saans verlang ek halfpad gek

terug na die kudde, weg van hul lof
na die Karoo-veld en die stof

waar ek nog trots teen die aandwind staan
een van die duisende sonder naam,

sonder die juk van die roem of die dors
en die Eerste Prys op my bors

Ontvlugting

Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:

Ek speel met paddavisse in 'n stroom
en kerf swastikas in 'n rooikransboom

Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf

Ek is die seevoel wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as 'n maal

Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:

My lyk le uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.